About Us

Alet van Zyl - Hartsgoed

Ek het grootgeword tussen rooi Kalahari duine en haakbosbloeisels met twee ouers wat onwrikbaar in ons geglo het en my vandag nog inspireer om elke dag my beste te gee en dankbaar te wees vir die klein dingetjies in die lewe.

Op hoërskool kon ek glad nie besluit watter rigting ek na skool wou inslaan nie.  Ek het egter 3 dinge geweet.  Ek wil nie eendag in ‘n stad bly nie: ek wil iets met my hande doen en ek wil gelukkig wees in my beroep.  Ek het vier jaar studeer en my graad in wingerd & wynkunde behaal asook ‘n diploma in keldertegnologie te Elsenburg Landbou Collage.  Hier het ek my man, Dirk, ontmoet en baie gegroei as mens en natuurlik ook baie pret gehad!  Die lewe loop egter met ons ‘n pad wat God lank gelede reeds vir ons gekies het. Wat ‘n wonderlike gedagte!

My ma het nog altyd naaldwerk gedoen en die mooiste rokke vir ons gemaak asook matriekafskeid en trourokke op bestelling.  Toe ek ‘n klein dogtertjie was, het ek ‘n klein masjientjie gehad waarmee ek speldekussings vir haar gemaak het sommer vir die lekker.

Soos ek ouer geword het, het ek vakansietye help stik vir ekstra sakgeld. Ek het ook vir myself kussings vir my kamer gemaak en ‘n duvet vir my koshuiskamer toe ek gaan studeer het. Naaldwerk is vir my en my sussie tweede natuur en ons beide het hierdie liefde en kreatiwiteit van ons ma Nerina gekry.   My ma is ‘n ongelooflike talentvolle vrou wat enige patroon uit haar kop kan maak! Sy help ons verskriklik baie!

Hoe groot is my voorreg om vandag elke dag te doen waarvoor ek lief is. As mamma van amper twee is die voorreg soveel groter om vanaf my huis te werk en so elke dag te deel in hul grootword en ook die boerdery. Om ‘n besigheid vanaf die plaas te bedryf is nie altyd maanskyn en rose nie.  Ons boer 50km van die naaste dorp af en materiaal en ander naaldwerkbenodighede is ten minste 390km ver.  Ek moet dus my pakkies en aankope baie goed bestuur.  Gelukkig weet alle karoo mense hoe uitdagend die afstande kan wees en stuur ek gereeld ‘n pakkie dorp toe saam met die bure of pakkies na die winkel saam met iemand wat ‘n Kaapse draai gaan gooi..  Die koerier tel slegs Dinsdae en Vrydae in Richmond op.  Hiervoor sal ek my vriendin by Vetmuis Plaaskombuis in Richmond ewig dankbaar wees wat altyd bereid is om my pakkies te ontvang en te versend.

Hartsgoed het klein begin met ‘n stalletjie by Upington Landbou Expo in Mei 2010 waarna ek aan ‘n winkel in Upington en Olifantshoek gelewer het en ook groter marke begin doen het soos KKNK en Aardklop. In Junie 2011 het ek my eerste Hartsgoed winkel in Swellendam geopen en in Maart 2012 het ek ‘n tweede tak in Upington geopen. Intussen het ons vanaf Swellendam na die karoo verhuis en ek het besluit om my Upinton tak toe te maak en Swellendam se tak te verskuif na die BP Petrolstasie by Buffeljagsrivier so 10 km buite Swellendam langs die N2.

Met die geboorte van my seuntjie het ek ook besluit om my markte minder te maak en stal tans slegs uit by Nampo in Bothaville en by Stellenberg feesmark in Durbanville, Kaapstad. Die reeks het basies 3 hoofvertakkings, naamlik ‘n dekor & geskenkreeks, ‘n kinderdekor reeks asook ons onlangse baba klerereeks.

Alle produkte word gemaak van uitstekende kwaliteit linne en 100% katoen en sover moontlik maak ons gebruik van trots Suid-Afrikaanse materiaal. Alle Afrikaanse verse wat in hierdie reeks gebruik word, kom uit my eie pen wat die reeks meer persoonlik en uniek maak.  Hierdie reekse word in die hart van die karoo vervaardig op ons plaas, behalwe vir ons klerereeks se produksie wat deur ‘n knap boervrou in die karoo behartig word.  Ons voorsien werk aan vier voltydse werkers asook twee deeltydse werkers.

Hartsgoed produkte word dan versend vanaf Richmond in die Noordkaap na ons Hartsgoed winkel by die BP Petrolstasie in Buffeljagsrivier langs die N2 asook na verskeie ander winkels landswyd waaraan ons groothandel lewer.

Ek is verskriklik opgewonde oor ons splinternuwe aanlyn winkel om so ons Hartsgoed reekse vir vroue regoor Suid-Afrika beskikbaar te stel.


Vreeslik dankie vir sussie se beddegoed, ek het dit ontvang!! Dit is verskriklik mooi!!! Baie baie dankie vir al jou moeite, waardeer dit vreeslik baie!! Kan nie wag om haar bed op te maak nie!!! Jy is wraggies vrek goed met wat jy doen.
Zanell, Hopetown
Hi, ek het gekry en is baie vrede, vreeslik dankie, ek waardeer.
Denise Lonte, Upington
En weereens slaan jy my voete onder my uit. Dis is gorgeous, stunning verby! Elke sent die moeite werd. Sooo miljoene dankies. Jy sal beslis weer van ons hoor.
Elizma Jacobs, Potchestroom
Alet!!! Hoe sê ek vir jou dankie vir my twee boetas se pragtige beddegoed!!! Dis so spesiaal en kosbaar. Baie baie dankie!
Mientjie Botha, Klerksdorp
My hart loop oor van liefde en blydskap vir jou mooi handewerk! Baie dankie vir my mooiste beddegoed vir baba HJ se kot.
Maryne Volschenk, Prins Albert
My pakkie het nou net hier aangekom!!! My jaar is gemaak. Dit is so ongelooflik mooi. Vreeslik baie dankie vir al jou moeite met die opvolg van die pakkie. Ek waardeer dit baie. Gaan sommer nou dadelik begin om kamer oor te doen. Wens jy het n winkel hier gehad. Ek sal met 'n ekstra tas moet SA toe vlieg sodat ek klomp goedjies by jou kan koop. Jy is beslis geseend met n besonderse talent.
Frenene, Perth, Australië.