Ons tel die dae af …

Dis ‘n stil winderige Sondag in die karoo en uiteindelik kry ek kans om bietjie voor my rekenaar te kom sit en net ‘n slag my gedagtes bietjie los te laat.   In my kop dwarrel te veel gedagtes, te veel bestellings, dalk te veel idees vir die kort tydjie wat ek oor het voor my geliefde dogtertjie haar verskyning maak. En tog maak niks van hierdie hele warboel saak as ons gesond en gelukkig is nie.

Ek vra die week my seuntjie van drie om gou die speelgoed op te tel by ‘n vriendin se verjaardag waarop ek ‘n antwoord kry wat ek nie verwag het nie.

“Mamma, ek het nie nou tyd nie!”.

Skaam skaam vermaan ek hom om nie terug te praat nie en gou-gou te gaan optel. Wel, iewers moes hy die ek het nie tyd nie gehoor het. En as ek eerlik moet antwoord het hy dit by my gehoor, want ek het te veel werk ingeneem en is besig met my nuwe aanlynwinkel (waaroor ek nou al jare droom) en my babakamer is nog nie reg nie en ek raak moeg, want ek is amper 8 maande swanger… ek lees die angstigheid in my eie woorde. Hoekom jaag ons so? Al waarvoor ek eintlik nou lus is, is om my babakamer reg te kry, met my seuntjie te speel, my kaste reg te pak en ‘n slag saam met my man veld toe te ry. Tog weet ek ook dat ek al hierdie dinge vir ‘n week sal geniet en dan maar terug verlang na my Hartsgoed en my lappe, want dis my voorreg om ‘n werk te hê wat ek elke dag geniet op ‘n plaas in die hartjie van die karoo.

En dan kom fluister die wind in my oor dat dit oraait is om so te voel, maar dat ek ook moet dankie sê dat ek wel bestellings het, my besigheid so mooi gegroei het en God in beheer is van alles. Ek moet net asem haal, my ding doen en leer om te ontspan.

Ek swel baie meer met die swangerskap as met my eerste, so nodeloos om te sê voel ek nie elke dag op my heel mooiste nie, maar hierdie week kom sê my seuntjie elke dag: “Ooo Mamma, jy is darem vir my so bitterlik mooi!” My hart wil bars van liefde vir ‘n seuntjie wat trots is, wat liefhet tenspyte van die ek het nie tyd nie, wat net onvoorwaardelik vergewe.. Al is sy mamma heeldag in die werkkamer doenig. Gistermiddag loop ek saam met hom op die werf rond en hy gaan wys my die lammertjies in die lamhokke. Soos wat ons deur die gange loop, steek hy by elke hokkie met lammertjies vas en sê: “Mamma, kyk hoe mooi is die ou lammertjies!” Nie een is mooier as die ander nie, almal ewe kosbaar en perfek!

Vanmiddag kan ek net stilword, nederig dankbaar wees vir al God se seëninge in ons lewe, asemhaal en vertrou dat alles mooi sal uitwerk. Dat my meisiekind sal kom wanneer sy reg is om te kom, haar boetie sal weet dat ons harte genoeg liefde het vir twee en ons sal tyd maak vir lag en speel en die klein dingetjies sal waardeer…

Tot ons weer gesels wanneer ek met my voete in die lug lê met die gesuis van die branders in my ore en met twee arms vol kinders en ‘n man wat ons laat veilig voel. My verwagte keiserdatum is op 13 Desember 2018. Ons tel die dae af…