Ons boer naby Richmond in die mooiste karoo vlaktes en ons studio is sommer net oor ons huis se agterstoep. Ek is geseënd om elke dag te werk met soveel mooi by my huis in die middel van nêrens. Min mense ry weg op my werf sonder ‘n pakkie onder die arm om iewers op die naaste dorp te besorg! Iets wat net karoo mense sal verstaan en met soveel liefde rondry.
Ek is lief vir mooigoed… Mooi woorde, mooi lappe, mooi blomme, mooi foto’s en prentjies, mooi sonsondergange, mooi mense harte en mooi huisgoed. Ek is ook eintlik baie lief daarvoor om in die veld te gaan stap en in interressante winkelstjies rond te loop en om gesellig te kuier saam met hartsmense, maar daarvoor kry ek baie selde tyd.. Dalk is dit my jaar om ook tyd hiervoor te maak!
Abba Vader het my geseën met die gawe om met woorde te speel en ek glo my roeping is om met hierdie talent lewe te spreek en myself en ander te herinner om na die mooi in die lewe te soek en Hom daarvoor te eer.. Ook om elke dag met ‘n hart vol dankbaarheid te leef, want ons het ALTYD iets om voor dankie te sê. Iemand het eendag by ons eerste Swellendam winkel ingestap en gesê die teenwoordigheid van die Here is tasbaar in Hartsgoed. Dit was die heel mooiste kompliment en waarna ons by elke Hartsgoed winkel streef.
Om iets nuut te skep uit ‘n mooi lap maak my opgewonde! Om my eie dogtertjie in ons eie klerereeks te sien laat my hart op sy mooiste blom!
MY GROOTWORD
jare
Ek het grootgeword tussen rooi duine en haakbosbloeisels op ‘n plaas naby Groblershoop in die Noordkaap as die jongste van drie kinders. Ek het wonderlike ouers wat nog altyd onwrikbaar in ons geglo het en steeds ondersteun waar hulle kan. My pa is ‘n man wat met sy twee vellies plat op die aarde staan. Sy mooiste blou oë kyk sag en is vol wysheid, terwyl sy hande weet van hardwerk en vasvat. Hy is die lekkerste storieverteller in die kontrei en met sy geloof om berge te versit, wens ek om nog baie jare my kinders op sy skoot te sien sit en saam te getuig van die Here se genade met sy kankerpad. My ma is ‘n sagte ma en ouma met warm drukkies en altyd tyd om te luister. Sy is ook waaragtig die vrou wat die mooiste rokke kan maak en ‘n patroon van ‘n prentjie af uit haar kop kan optrek. Met ‘n naaimasjien se spanning en ‘n kleinkind het sy Job se geduld. Haar liefde vir ‘n mooi lap en blou het op altwee haar meisiekinders afgesmeer in die mooiste sin van die woord. Mag sy nog baie jare vir ons Sondagkos kook, vir ons bid en met haar vingers in die grond werk in haar spogtuin..
DIE BEGIN VAN
Hartsgoed
Op skool kon ek nie besluit wat ek eendag wil wees as ek groot is nie, maar ek het drie dinge geweet.
Ek wil nie eendag in ‘n kantoor werk nie.
Ek wil nie eendag in ‘n stad bly nie.
Ek wil regtig gelukkig wees in dit wat ek doen.
Met al hierdie ingedagte, besluit ek toe om Wingerd & Wynkunde by Elsenburg te studeer. Ek het my studente lewe baie geniet en met ‘n ring aan my vinger my graad gevang, maar na ‘n jaar in die bedryf geweet dat ek die regte man gekies het, maar nie die regte beroep nie!
My sussie stel toe voor dat ek mooi kussings en kinderbeddegoed moet maak vir Upington se Landbou Expo en skiet my die stalletjie geld voor. My man gee vir my R10 000 om voorraad en lap mee te koop en ek maak sommer ook voorskote en lapharte en boekoortreksels. Na die skou kon ek my sussie terug betaal, vir my ‘n splinternuwe Bernina masjien koop wat vir my kan knoopsgate maak en het ek twee winkels gehad waaraan ek my produkte kon lewer. Dit was in Mei 2010 en ek was nog nooit een dag sonder werk nie waarvoor ek net vir die Here kan dankie sê! Intussen het ek wel die beddegoed opsy geskuif omdat ek al die detail self moet doen en nie tyd kry daarvoor saam met die skoolgee nie.
WIE MAAK AL ONS
mooi goed?
By ons op die plaas het ons twee voltydse stiksers en twee assistente wat help met die afronding, strykwerk en verpakking van ons produkte. Ons het ook vier onafhanklike vroue wat vanaf hul huise die meeste stikwerk van ons baba en kinderklere reeks behartig en dan ook twee raakvat vroue wat ons Hartsgoed winkels bestuur in Buffeljagsrivier en Beaufort-Wes van waar ons die aanlynwinkel se pakkies versend.
MY AFDELING BY HARTSGOED
Produkontwerp, die aanpassing van patrone en die maak van “samples” is my lekkerste werk. Dan is ek ook verantwoordelik vir die oorhoofse bestuur van beide winkels en die aanlynwinkel, bemarking en sosiale media, aankope vir produksie en voorraad vir die winkels. Die fotografie van ons produkte vir ons webwerf is ook iets wat regtig vir my lekker is en waarin ek so graag nog ‘n kort kurses sal wil doen. Soms wil ons so graag net alles self doen, maar ek moes die jaar op die leer dat daar ‘n tyd is om terug te staan en weer die Goddelike orde in ons lewe te herstel. Ek het ‘n wonderlike span vroue wat saam met my werk op wie ek kan vertrou om my hande te vat en om ook so hulle volle potensiaal te ontwikkel. Ons as vroue mag ‘n passie vir ons beroep hê, maar ons is eerstens vrou en mamma en om by daardie balans uit te kom is seker my grootste uitdaging. Sonder die leiding van Heilige Gees en die genade van Jesus en die seën van die Here sal ek dit nooit kan regkry nie.
MY HART VIR ELKEEN WAT HIERDIE STORIE LEES
Mag hierdie bietjie lees jou herinner dat niks vir jou onmoontlik is nie, want die Here maak ons voete soos die van ‘n ribbok. Hy is God Almagtig en wil vir ons ‘n toekoms gee – ‘n verwagting! Hy is die God wat dinge moontlik maak waar ander sê dis onmoontlik! Mag jy afbuk en die fyn rosies op die karoobossies raaksien. Mag jy die groei en lewe in die veld en in jou hart na ‘n droogte beleef. Mag jy Coenie de Villiers se “Ken jy Katbos en ken jy Kambro” uit jou hart sing wanneer jy weer deur die karoo ry en weet sy mense en sy vlaktes is geseënd. Mag jy die een wees wat lewe spreek en ‘n lig vir Jesus wees oral waar jy gaan. Mag jy glo in wonderwerke en glo in jouself. Mag jy jouself sien deur die oë van Jesus. Mag jy nooit ophou soek na waarheid nie en die grootste Skepper God jou elke dag bekoor met Sy natuur, Sy mense, Sy liefde en genade en Sy kreatiwiteit!
“Aan Abba Vader gee ons al die eer.”