Gistermiddag was ek besig om n bloesie te maak toe ons van ouboet se rugby af kom en toe kom Nerina in en vra “Mamma, kom ons dogtetjies gaan stap n djaatjie”… En toe sê ek JA vir die eerste keer in n lang tyd en sien hoe haar gesiggie blom.. Sy sit haar klein handjie in myne en soen kort-kort my hand.. die mooiste dankie sonder woorde..
Die karoo was sommer vir my mooi.. my dogtertjie se ogies blink en ek.. miskien sien ek tog hoop dans op die mooiste horison van karoovlaktes.. Miskien gaan die JA meer gereeld kom en die Goddelike orde wat ek so graag in my huis en lewe wil herstel bietjie vir bietjie in plek val deur die leiding en werking van Sy Gees..
Ek sit in die namiddag sonnetjie met die Leef tydskrif op my skoot en ek lees die woorde raak..
“Dís wat skeppende mense doen. Hulle maak die stukkie aarde waarop hulle woon mooier. Só gee hulle iets van hul eie dankbaarheid en vreugde terug aan die God wat alles geskep het.” – Marike Nel
Miskien moet ons net Kaleb se gesindheid hê soos my skoonma vanoggend se oggenddiens met my deel.. Miskien lê die beloofde land reg voor ons, maar ons is bang vir die reuse.. ons hou vas aan wat bekend is.. maar weeg ons dit op teen die tyd wat ons in die woestyn rond swerf? Gaan ek vir ja sê vir n “custom order” of gaan ek ja sê vir my dogtertjie om te gaan stap?
Mag die Gees van God vir my en jou lei om die regte keuses te maak.. Mag wat vir ons mooi en lekker is nooit net om rand en sent draai nie.. Mag ons balans vind.. Mag ons gedagtes stil genoeg wees om Sy stem bo die masjien se dreuning te hoor.. Mag ons nooit ophou mooi maak nie, mag ons nooit ophou dankie sê nie.. mag ons nooit later spyt wees nie.. Mag ons woorde ook ander inspireer en herinner “God sorg vir die mossies..” en ons is soveel meer werd in Sy oë..
“Balans, vrede en vreugde is die vrugte van n suksesvolle lewe.” – Thomas Kinkade
Lees ek ook in die Leef raak vanmiddag.. Dankie Abba Vader vir n rusdag.. vir winterson en stilword.. dankie vir herstel, hoop en emmers vol genade..