Ek was lanklaas in my lewe so half oorweldig…
maar nie n kla oorweldig nie.. n opgewonde mooiste berg van nuwe Hartsgoed waaroor ek effe onfiks klim en my verwonder aan die mooiste mooi nuwe lewe om my voete.. en die uitsig oor die horison gaan so mooi wees wanneer ek bo kom.. maar op my eie sal ek nooit tot bo kom nie!
My hart is vol dankbaarheid.. Vannaand voel ek bitter moeg. Die week was nie mak nie, maar deur sy slegte tydings was daar ook soveel kosbare onthou saam met my ma.. Sy het my kom leer om self my kinderklere se samples te stik en ek kan nie glo ek kan dit doen nie! Dis die lekkerste lekkerste gevoel om daai laaste knopies aan te werk, nate oop te stryk, terug te staan en my eie eie handewerk te bekyk.. en ek sê dankie Vader vir die voorreg om n ma te hê met soveel talent en wat net altyd uithelp waar sy kan! Dankie vir die voorreg om te kan leer by my eie ma en dat ek dit reggekry het! Ek het nou wel al n mou op die rug vasgestik, maar tenminste het ons lekker gelag.. Ooee en ek het n coverseam masjien gekry op wie se naam ek nie kon kom toe ek moet engels praat om hom te bestel nie! Maar hy werk soos n droom as jou voet lig op sy petrol is.. hy het al so n paar keer met my weggehol die week, maar ons twee verstaan mekaar nou beter! Die nuwe somersreeks se lappe en patrone is vir my vreeslik mooi. Ek moet die week begin knip aan die voorraad, want met hierdie reeks gaan ons begin voorraad dra om te verseker dat ons aanlyn bestellings vinniger uitgaan, n groot stap, maar ek glo ons gaan nie terugkyk nie en dat die seën van die Here daarop sal rus.
En die ander mooiste nuwe ding is ons eie Hartsgoed materiaalreeks met dié mooiste handgeverfde rose, strepe en polkadots deur die mees talentvolle Claudia Faber.. ek kan nie glo dat daar nog mense is met sulke mooi harte nie.. mense wat sommer net jou droom kom vasvang en so mildelik seën.. Claudia, ek sal nooit vir jou genoeg kan dankie sê nie.. my hart blom en ek kan nie wag om n splinternuwe dekor en geskenkreeks van my eie lappe te maak nie.. Dit voel nog vir my onwerklik! Die nuwe verse is klaar geskryf, maar ek het nog nie sitkans gekry vir die ontwerpe van die skerms nie!
Ons eerste besending Hartsgoed keramiek waarvoor baie al so lank vra kon ek ook vanmiddag uitpak op Ouplaas en ek hoop om dit die week af te neem vir die aanlynwinkel.. Dit pas só mooi by ons teedoeke! Ek sien so uit om die skerm te kry om bypassende vatlappe ook te print en spesiale geskenkbokse op te maak vir vroue..
Dis verskriklik droog by ons op die plaas en dis so n groot genade om heeldag met mooigoed te werk. Om te kan glimlag (meeste dae) as my man by die huis kom. Hierdie week het ek ook sommer net opnuut besef hoe mooi ons mekaar en ons gesin moet oppas.. dat ons moet bid oor alles.. dat ons Vader alles ten goede sal laat meewerk vir die wat op Hom vertrou.. My gunsteling belofte uit Sy woord wat ek by n baie kosbare vriendin gekry het toe ek dit die nodigste gehad het..
Ek het ook geleer die week dat ons nie te veel hooi op ons vurk moet laai nie, want dit bring nie die mooiste uit ons uit nie. Dalk sê ek ons, omdat ek dan beter gaan voel as dit nie net ek is nie? Ek kan nie genoeg dankie sê vir Jesus se genade nie, want sonder Hom sou ek so verlore wees.. Janus het vanoggend kom sê hy wens ek kry vir een hele dag niks bestellings nie, sodat ek n slag vir die hele dag met hulle kan speel.. en dit het my hart gebreek.. Laat ons altyd besig wees hulle voel dat hulle nie dié belangrikste is nie?
Mag ons elke dag by Hom hoor wat ons moet vat en wat ons moet los.. Mag ons gesin ALTYD weet hoe belangrik hulle is en hoe geliefd en mag ons tyd inskryf vir hulle en dit prioriteit maak.. Mag ons n verskil maak met wat ons elke dag doen.. Mag wat ons sê en wat ons doen vir Hom aanneemlik wees..
Mag dit met jou goed gaan.. Mag jy gesond en gelukkig wees en elke dag soek na die mooi.. Mag jy balans vind, vriendelik wees, saggies trap en die liefde van Jesus in jou huis en jou werk lééf..
Ek sien so uit na die somer so warmer weer.. ek glo ons gaan die somer in n grasgroen veld braai en in waterpoele speel.. en ons gaan nooit ooit weer reën as vanselfsprekend aanvaar nie. En as alles mooi loop, sien ek uit om die somer iets mooi in Beaufort-Wes te begin, maar hierdie stukkie droom bêre ek vir my volgende brief, want ek gaan my vurk se vrag so bietjie afskud..