Ons is oppad Nampo toe.
As ek sê my boerman vat my met n Toyota bakkie en n beeswa, bedoel ek dit letterlik. En hy laai al my kassies en skottels en lappe so mooi. Alles kom in voersakke sodat niks seer kry nie. Hy laai tot na middernag my goed. Voorin sit my ma langs hom wat soos n engel op ons neergedaal het. Vir die laaste drie dae stik sy kopbande met haar 5 maande oue naamgenoot op die skoot, sorg vir kos en dat my seuntjie van drie gebad en versorg word.
Agterin sit ek saam met my 2 kinders langs hul karstoeltjies en n klein Jack Russel. My laptop en voedingskussing op die skoot. Ons is verskriklik gelaai. Ek het my half dood gewerk die week om alles klaar te kry.. my vrouens op die plaas is ongelooflik en help my so mooi.
In Bloemfontein stop ons om laaste voorraad te laai, want koerierkoste Richmond toe is onmoontlik duur. Familie verwelkom ons met koffie en heerlike eetgoed terwyl hulle hul kantoorspasie geleen het vir bokse keramiek en kussing “inners”. Ek kan darem staan en koffie drink terwyl my man gou die bokse en sakke gaan laai. So baie wat ek nog wou gesels, maar by Little in Preller wag die 2 mooiste vertoonpoppe wat dierbare Anette vir ons leen. Ek kry die nodige medisyne by Dischem en hardloop gou by Woolies in om kos te kry vir die week. Ek was weke laas in n dorp. My man het al die rye van die plaas af vir my gery om my te help sodat ek my werk kan klaar kry.
Maar.. nou is ons amper by Nampo se hekke. My kinders slaap rustig. My man en ma gesels lekker voorin. Ons is veilig, gesond en gelukkig in my chaos. Ek is so dankbaar dis net een keer n jaar Nampo, maar ook so dankbaar vir n wonderlike platvorm om my handewerk met ander te deel. Ek is so opgewonde oor ons kinderklere reeks wat die 1ste keer by Nampo gaan wees..(waarvoor my man ook nog die week tussen voerbakke deur vir my self n rak gebou het. Hy moes Middelburg toe ry om die regte pype te kry!) Net so opgewonde is ek oor ons nuwe blou keramiekreeks, nuwe leer labels, n mond en n hart vol nuut..
Ek het so lanklaas gesels en geskryf dat ek myself in die rede val. Om n lang storie kort te maak.. Ons sien baie uit na Nampo! Omdat ons so ver van my winkel af bly, is hierdie my enigste geleentheid om mense se reaksie op ons Hartsgoed te sien…
In my hart wens ek vir dieselfde waarderende oë as al die ander jare en loof God vir die voorreg om vir nog n jaar gesond te wees en my talente uit te leef.
Nou gaan ons daai bees wa aflaai en my Hartsgoed begin afstof.. altyd so onregverdig dat mense wat van die stad af kom net skoon meubels kan aflaai en begin uitpak. Ons 10km grondpad sorg vir redelik stof!
Na Nampo.. gaan ek verseker vir n week net met my kinders speel, kos maak, tuin werk en alles doen waarvoor tyd die laaste weke min was. Verseker ook n slag saam met my man veld toe ry en saam koffie drink in die middag en die karoo se herfs omhels.