Die mooiste nuwe seisoen..

Die mooiste nuwe seisoen..
Hoe kyk n mens terug na n jaar vol genade sonder om dankie te sê.. 

2025 was nogal n harde jaar.. vol harde besluite en harde werk.. harde teleurstellings.. en soms harde realiteite.. maar ook toegevou in die sagte hande van n liefdevolle en barmhartige Vader..

Met die aanbreek van lente kom die mooiste verrassing van nuwe lewe binne my.. in die middel van my 40 dae vas raak ek swanger met n dogtertjie.. die heel mooiste geskenk en openbaring van ons Skepper God se perfekte tyd en plan met ons lewe en ek kan nie ophou glimlag nie.. Ons sien uit om haar teen einde April in ons arms vas te hou en koester elke oomblik van haar groei en ontwikkeling  onder my hart.. staan opnuut verstom voor die absolute wonder van lewe..

"Liefste laatlam, op Ouplaas moet ons dalk nog n kamer aanbou, maar in ons harte staan jou kamer al vir baie jare en wag.."

Saam met die terugkyk kom die mooiste stories van onthou en beloftes om neer te skryf.. ek het die jaar geleer dat gehoorsaamheid beloon word.. dat dit die wêreld vir my beteken wanneer n vriendin net opdaag en sê "ek is hier om te help".. dat die Here nie 5000 vissies nodig het om 5000 mense kos te gee nie.. want hier kom die Here en gee meer verkope vir November en Desember as wat ons nog ooit by ons besige Buffeljagsrivier winkel verkoop het in seisoentyd.. weg van die N1 se gedruis.. by ons eie winkel wat nog bietjie meer as twee jaar terug net n ruim motorhuis was.. en al wat ons kan sé is DANKIE ABBA VADER.. aan U al die lof en eer! Ek het opnuut geleer hoeveel dit vir my beteken om n man te hê wat my help en ondersteun en wat ek met my lewe kan vertrou.. Ek het geleer dat meer nie altyd beter is nie.. Ek het ook geleer dat ek nog só baie het om te leer en nog so baie moet groei as mens.. en dat dit ook so moet wees.. dat die Here nooit meer gee of openbaar as wat ons kan hanteer nie..

.. en ek is só opgewonde vir ons splinternuwe Karookind materiaalreeks vir kinderdekor en beddegoed.. om ons aanlynwinkel en winkel te sien groei binne ons vermoë en stelsels in plek te sit om die druk van almal op die plaaswerf en dorpswerf so bietjie sagter te maak.. mag die Here my die wysheid hiervoor gee..

..en ek sien die meeste uit na die mooiste rede om my pas so bietjie te verslap... en elke oomblik met my gesin te koester.. veral ook met hierdie kleinste lyfie, want ek is immers eers vrou en mamma en dít is my grootste verantwoordelikheid en vreugde en vrede.. 

Baie dankie vir jou ondersteuning in 2025.. Mag die guns van die Here op jou rus in hierdie mooiste nuwe jaar.. Mag jy gesond wees, veilig wees, voorspoedig wees.. en elke dag kies om met dankbaarheid na die lewe te kyk.. ligter leef.. te vergewe en te kies om die mooi in jouself en ander raak te sien.. 

..en mag ons reënmeters oorloop..