Die derde kwartaal het letterlik met 'n swaar vrag weggespring.. Ons het na byna 10 jaar Buffeljagsrivier se Hartsgoed winkel gaan oppak. 'n Lewenslyn uit God se hand toe ons dit die nodigste gehad het. Hierdie winkel het gehelp om lone te betaal, masjiene aan te koop en doeke en skoolgeld betaal.. Ook om 'n dorpshuis te koop en gaste eenhede reg te maak.. Die seisoen was onsettens geseënd, maar twee winkels het sy tol geëis op my as Mamma van twee... en dis net amazing hoe die Here in elke behoefte voorsien op Sy perfekte tyd!
Die oppak was die makliker deel.. Om weer vir alles plek te kry in die Karoo was 'n groter uitdaging, want alles kan nie net in bokse staan en stof opgaar nie. Die dorpshuis se spaarkamer (wat ek vir my dogtertjie belowe het) moes stoorkamer word. Alle kaste het rakke gekry en elke produk is sorteer volgens kleur en grootte in netjiese rye. Dit was oorweldigend. My man het met soveel geduld my kaste en rakke en bokse gelaai en daar het nie een stukkende ding van die lorie afgeklim nie. Wat 'n groot genade.. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir Anneli en Adria, twee vriendinne wat die oggend net daar was toe die vragmotor stop om te help! My sitkamer was vir twee weke in 'n deurmekaar spul van bokse, maar ons het gewen en so stadig maar seker begin ons 'n nuwe ritme vind. Ons het 'n splinternuwe webwerf en is opgewonde op die week met professionele sosiale media bemarking te begin om ons aanlynwinkel te sien groei..
Met al hierdie wat moes gebeur, het ek besluit om ons nuwe somersreeks net van 0-24 maande te maak en dit het soveel druk afgehaal. Ons het diep onder die snytafel gekrap en enkele meters wat na elke seisien oorgebly het opgebruik. Dis die eerste seisoen waarvoor ek geen nuwe materiaal aangekoop het nie en is so dankbaar en opgewonde vir die prentjie mooi eindproduk! Ook trots om 'n ligter spoor op ons omgewing te trap. Die seisoen was net reg.. Ek droom van 'n Mamma en groter dogtertjie reeks vir my eie meisiekind op klein skaal, maar ek glo die Here sal ook hier die pad vooruitloop wanneer die tyd reg is.
Die vakansie op die plaas is presies wat ons harte nodig gehad het. Die duiwe se koer en lammers se blêr is vir my ekstra mooi en nie eers die see se branders kon soveel vrede inhou nie. Die ontwerpe van ons splinternuwe eksklusiewe kindermateriaal is klaar en ek kan nie wag om die eerste samples te laat druk nie! Ek droom van beddegoed met bypassende kopstukke en mooi strooikussings.. Ek wil so graag meer konsultasies doen vir binnehuise versiering of 'n regruk projek.. juis hoekom ek so opgewonde is vir ons dorpshuis se leefvertrek se regruk sodra die skool begin. Lyk my ek hou van 'n besige wegspring.. My begroting is altyd hopeloos te knap vir die drome in my kop, maar verandering en groei is nodig om vooruit te gaan. Ek kan nie wag om die voor en na prentjies met julle te deel nie.
Ek wens die vakansie was nog 'n maand lank.. Om in twee huise te bly is 'n baie groter uitdaging en opoffering as wat ons gedink het.. maar die saamwees word ook nie meer net as vanselfsprekend aanvaar nie.. dis 'n seën en voorreg en genade wat ons koester.
Mag ons die nuwe kwartaal ingaan met die wete Abba Vader se tyd en plan met ons lewe is perfek. Hy ken reeds die pad en stap elke tree saam.. Mag ons dit met dankbare harte ingaan en woeker waarmee Hy ons geseën het..
Ek sien uit om binnekort nog opwindende nuus met julle te deel.. wag, voor ek vergeet! Hartsgoed is in Stellenbosch! Dit voel wel of ek myself moet knyp.. Ek is so opgewonde en dankbaar vir die geleentheid by Fidders! Gaan loer in - hulle het die mooiste goed!